Met ‘n lied in ons hart het Kruiskyk Familie Sentrum op 19 Julie met inry dienste op Sondae begin!
Wat ‘n wonderlike ervaring om weer as gemeente bymekaar te kan kom, al is dit met sosiale distansiëring. As ‘n mens vir so lank nie saam kon kom om ”kerk” te hou nie, besef mens weereens hoe belangrik en watter groot voorreg dit is, om as kinders van die Here saam te kom om Hom te loof en te aanbid. Almal wat hierdie dienste bywoon sal saamstem dat die boodskap deur Pastoor Clemens elke Sondag soos manna uit die hemel is en dat ons musikante absoluut die beste is!
So word die Here dan in die motors geloof en geprys, nagmaal word gebruik en word “amen” met ‘n toeter klank vervang! Wat ‘n ervaring! Wat ‘n atmosfeer!
Ons harte is dankbaar dat ons weer ‘n tipe van normaal kan beleef!